Mensgemaakte hongersnood

hongersnood-gedenkbeeld-informatique-flicker

‘n Standbeeld in Dublin, Ierland wat die groot hongersnood van 19de eeu herdenk. Foto: Informatique/Flicker.com

Twee streke is die afgelope maand in Suid-Soedan tot rampgebied verklaar en daar word gewaarsku dat Somalië, Nigerië en Jemen die gevaar loop om dieselfde roete te volg.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sal dit die derde keer in 25 jaar wees dat Somalië ʼn hongersnoodkrisis beleef. Die vorige keer was in 2011 toe 260 000 mense dood is. Bykans 20 miljoen mense kan binnekort weens hongersnood sterf.

Volgens die Verenigde Nasies is vier miljard dollar binne die volgende drie weke nodig, of selfs meer mense sal sterf. In Suid-Soedan sal minstens een miljoen mense binne die volgende week nie meer toegang tot kos hê nie. In Nigerië word bykans 400 000 kinders reeds deur wanvoeding geraak. Byna 80 000 van hulle sal nie die volgende paar maande oorleef nie.

Maar wat is die oorsaak van hierdie reusevoorkoms van hongersnood? Droogte is ongetwyfeld een van die redes, maar die grootste oorsaak is mensgemaak.

Eerstens is daar terreurgroepe soos Boko Haram wat nedersettings tot die grond toe afgebrand het en dus die boerdery-aktiwiteite belemmer het. Dié terreurgroepe veroorsaak ook ʼn groot aantal vlugtelinge wat in kampe beland en verdere druk plaas op die lande waar die vlugtelingkampe gehuisves word.

ʼn Tweede oorsaak is swak beplanning. Die afgelope ses jaar word daar gewaarsku dat die hongersnood wat in 2011 voorgekom het, herhaal sal word. VN-filiale probeer al 25 jaar lank om voorkomingsmaatreëls in te stel om te verhoed dat daar ʼn herhaling is van die vorige sterftes weens hongersnood.

Dan moet daar ook gevra word hoe hongersnood in ʼn land soos Nigerië kan voorkom. Die bekende verslaggewer Chido Onumah sê die feit dat daar wel hongersnood in Nigerië voorkom, is ʼn skande. Nigerië is ʼn land wat oor verskeie hulpbronne beskik en kan as ʼn ryk land beskryf word. Onumah wys egter daarop dat dit ook ʼn land is met ʼn hoë voorkoms van korrupsie en ʼn gebrekkige politieke wil om probleme soos hongersnood betyds aan te pak.

Die mees skandelike rede vir die voorkoms van hongersnood is die beperkte toegang wat hulpverleningsorganisasies tot geteisterde gebiede kan kry. Die hoof van die Verenigde Nasies se afdeling vir humanitêre dienste, Stephen O’ Brien, het onlangs ʼn besoek aan Suid-Soedan gebring. Tydens die besoek het hy daarop gewys dat hulle nie daarin slaag om belangrike hulpbronne by Suid-Soedan se mense te kry nie weens blatante aggressie teenoor hulpverleningswerkers en lomp burokratiese prosesse.

In die volgende tydperk gaan bykans 20 miljoen mense deur hongersnood geteister word en ʼn groot aantal mense gaan sterf. Dié sterftes kan egter nie aan natuurrampe soos droogtes toegeskryf word nie, maar moet vierkant voor die deur van onbevoegde regerings gelê word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Enjoyed this post? Share it!