‘Wat as my karakter se kind sou wegraak?’

noami-meyer-naomi-bruwer-litnet

Naomi Meyer.

Sy was nie goed met wiskunde nie. Sy het haar net toegespits op dít wat vir haar lekker was. En dit was opstelskryf. Naomi Meyer het sopas haar debuutroman die lig laat sien: ʼn boek met ʼn interessante agtergrond. Ons het haar ʼn paar vrae gevra:

Web is jou debuutroman. Hoe het die storie ontstaan?

Ek, my man en seun, wat in daardie stadium ons enigste kind was, was by die Praia da Luz, dieselfde strandoord waar Madeleine McCann in 2008 weggeraak het.

Ons het toe al jare lank in Ierland gewoon en ek het die sonskyn gemis. Ek was versot op Portugal: die vervalle geboue, die hitte, die oordadige kleure. Dit was boonop Mediterreens soos die Kaap. Anders as in my roman en wat die karakter dalk op verskillende tye beleef, het die omgewing intens tot my gespreek. Dalk het dit die emosie geaksentueer wat ek daar op die strand beleef het: die kortstondigheid van net mooi alles en daardie oomblik; die mooi van my kind op die strand. Ons sou kort daarna terugkeer na Ierland se grys lug. Die storiegedagte het ontstaan: Wat as my karakter se kind sou wegraak? Daardie persoonlike emosie was waar alles ontstaan het. Daardie aand nog het ek ʼn hoofstuk van die roman geskryf. Dis later herskryf, maar die saadjie is geplant.

 Die storiegedagte het ontstaan: Wat as my karakter se kind sou wegraak?

Toe ons teruggekeer na Suid-Afrika (in 2011), het baie ander dinge my karakters se stories beïnvloed – hierdie ongelyke, teenstrydige land waarin ons leef. Toe ek eers werklik die storie begin skryf het, kon ek nie ophou nie.

Die dag toe die titel my tref was daar nog baie drade van daardie web om te knoop, maar toe móés dit eenvoudig klaar. Daar is nog ʼn komponent aan hierdie antwoord, en dit het te doen met ʼn “nurture versus nature”-vraagstuk. Ek het grootgeword met ʼn skrywer as ma. Vandat ek baie klein is al was om te skryf deel van my verwysingsraamwerk en dalk ook my genetika.

Waarna het jy meeste verlang terwyl jy in Ierland gewoon het?

 Na mense, familie. Ek wou hê ons kinders moes hul grootouers ken. Hulle moes ons hiervandaan sien en beleef. Ek dink dis baie verruimend vir ʼn mens se gees om ʼn ruk lank elders te woon, maar ons wou hulle hier in Suid-Afrika grootmaak. Ek het ook verlang na ou vriende vir wie ʼn mens nie nodig het om te verduidelik waar jy vandaan is nie. En na Afrikaans. In al sy gedaantes.

Soms het ek ʼn uur gery om ʼn boks sjokoladegeur ProNutro te gaan koop, ek kan nie daaroor jok nie

Daar was later jare boerewors te koop by ons plaaslike slagter in die dorp Navan waar ons gewoon het. Ek dink daar was ook Mrs Ball’s-blatjang in die winkel. Soms het ek ʼn uur gery om ʼn boks sjokoladegeur ProNutro te gaan koop, ek kan nie daaroor jok nie. Maar dan moet ek ook byvoeg dat ons soms ʼn uur gery het Dublin toe, na hulle plaaslike tuisnywerheid, so bekend soos Ina Paarman: Avoca Café. Die beste, mees dekadente slaaie (ja, reg gelees) wat ʼn mens jou kan voorstel.

Wat maak jou nostalgies?

Musiek. Sekere smake en reuke. ʼn Landskap en ʼn klimaat. Snaaks hoe Ierland ook nou ʼn verwysingsraamwerk is. As die wolke op ʼn sekere manier lyk, dink ek aan niks anders nie: dan is ek in Dublin. Maar soms sal ʼn doodgewone lees van ʼn artikel op LitNet, waar ek as inhoudsbestuurder werk, veroorsaak dat ek aan my pa dink. En dat ek hom die aand bel en sê: “Pa, lees gou hier.” Nostalgie is maar onvoorspelbaar.

web-naomiBestanddele van ʼn verhaal wat boei?

Die skrywer moet eerlik wees oor wat die karakter beleef. Let wel: Wat die karakter beleef, is nie noodwendig wat die skrywer persoonlik in haar lewe beleef nie. Klim in die karakter se vel in. Stap daarin rond. Beleef dit. Wees ʼn akteur, só ʼn goeie akteur dat jy jou volledig in jou rol inleef. Kry ʼn duidelike idee en moenie te veel idees probeer invoeg nie. “Less is more.” Reken af met al jou hebbelikhede. As jy twyfel, moet hulle gaan. Sê koebaai vir die mooi sin wat nie deug nie, bowenal die sinne waaraan jy voor jou siel weet jy te geheg is.

Wat lê jou na aan die hart?

My dogtertjie. My seun. My man. My ma. My pa. My familie. My vriende. Reis. Om in ʼn orkes te speel. Om deel te wees van ʼn produksie, soos ʼn opera, toe ek ad hoc in die destydse Sukovs-orkes gespeel het.

Waarom skryf jy?

Ek was nie goed met wiskunde nie. Ek het nie genoeg aandag gegee aan enigiets anders nie, slegste moontlike ding: Ek het my net toegespits op dít wat vir my lekker was. Dit was opstelskryf, byvoorbeeld. Ek het ure lank moeite daarmee gedoen, die woorde geweeg. Dan kry ek daarvoor goeie punte en val met die ander goed uit die bus. Het ek al genoem ek is nie goed met sport nie?

Beste raad vir jong skrywers?

Moenie net wag vir inspirasie nie. Skryf verg baie selfdissipline. En wees oop vir kritiek. Dis nie teen jou persoonlik bedoel nie. Dit kan jou teks help vorm.

Die belangrikheid van die Woordfees?

Ek dink die Woordfees is amper soos familie vir my, ek kan nie sonder hulle nie. Dis ʼn meervoud van ʼn fees. Dit spreek tot elke aspek van elke kunsvorm wat ek waardeer. En dit skram nie weg vir protes en konflik of om uit te daag nie. Ek bewonder die Woordfees. Ek glo in die Woordfees.

Enige rituele as jy skryf?

Nie regtig nie. Ek skryf wanneer dit kan. Soms is dit saans, soms soggens. Dis nie ʼn ritueel nie, maar dis baie voordelig vir my om iewers te skryf waar ek nie toegang het tot die internet nie. Die internet is fantasties, maar dit trek my aandag af.

Web word uitgegee deur NB Uitgewers

Enjoyed this post? Share it!