Iere kies Samoaanse Kiwi vir Bok-toets in Dublin

Die insluiting van ’n Nieu-Seelands gebore senter wat ook kwalifiseer om vir Samoa te speel, en die weglating van die ervare vleuel Simon Zebo, is die vernaamste kenmerke van die Ierse rugbygroep wat vir die jaareindtoetse gekies is.

Bundee Aki gaan moontlik teen die Springbokke sy toetsdebuut maak vir sy aangenome land, Ierland.

Die Iere kom oor twee naweke in Dublin teen die Springbokke te staan in die eerste toets van hul November-reeks.

Joe Schmidt, Ierland se hoofafrigter, het Donderdag verras deur Bundee Aki te kies, maar nie plek te vind vir Simon Zebo in sy groep nie.

Zebo het reeds 35 toetse op vleuel en heelagter op sy kerfstok en hou die rekord vir die meeste drieë deur ’n Munster-speler. Wat waarskynlik teen hom getel het, is sy onlangse aankondiging dat hy sy rugbyloopbaan volgende seisoen in die buiteland gaan voortsit.

Hoewel Ierland ’n speler soos Johnny Sexton (losskakel) aanhou kies het tydens ’n tydperk van twee jaar wat hy in Frankryk gaan speel het, is ander spelers wat elders in Europa gaan klubrugby speel het, oor die hoof gesien vir die nasionale span.

Die feit dat die 27-jarige Zebo nie gekies is nie, dui daarop dat hy nie deel gaan wees van Ierland se planne vir die Wêreldbekertoernooi in 2019 nie.

Aki het op sy beurt pas gekwalifiseer vir Ierse kleure. Hy speel die afgelope drie jaar vir Connacht en was in 2016 ’n sleutelspeler vir dié span toe hy die destydse Pro12-titel verower het. Hy was daardie jaar ook Ierland se Speler van die Jaar.

Met Garry Ringrose en Jared Payne op die krukkelys, sal Aki waarskynlik in ’n stryd met Stuart McCloskey van Ulster gewikkel wees om as Robbie Henshaw se sentermaat gekies te word.

Benewens Aki het Schmidt nóg drie groentjies in sy groep ingesluit. Hulle is die Leinster-vleuel Adam Byrne, asook die agterspelers Chris Farrell en Darren Sweetnam van Munster.

“Ons verwag ’n reeks wat geweldige fisieke eise aan ons groep spelers gaan stel, met toetse teen Suid-Afrika, Fidji en Argentinië wat voorlê,” sê Schmidt.

“Ons het ’n kern van ervare spelers behou, maar ook ’n groepie belowende spelers gekies wat ek glo hulle goed van hul taak sal kwyt.”

Ierland se groep:

Voorspelers: Rory Best (kaptein), Jack Conan, Ultan Dillane, Tadhg Furlong, Cian Healy, Iain Henderson, Rob Herring, Dave Kilcoyne, Dan Leavy, Jack McGrath, Sean O’Brien, Tommy O’Donnell, Peter O’Mahony, Andrew Porter, Rhys Ruddock, James Ryan, John Ryan, CJ Stander, Devin Toner, James Tracey, Kieran Treadwell

Agterspelers: Bundee Aki, Adam Byrne, Joey Carbery, Andrew Conway, Keith Earls, Chris Farrell, Robbie Henshaw, Dave Kearney, Rob Kearney, Ian Keatley, Kieran Marmion, Stuart McCloskey, Luke McGrath, Conor Murray, Johnny Sexton, Jacob Stockdale, Darren Sweetnam.


Enjoyed this post? Share it!